Friday, September 24, 2010

9. DIE SLANG & DIE AREND (met Richard Brokensha)

(1. die slang)

ek slink in ‘n oogwink, voordat jy kan mooi dink, skaduwee se koning onder elke rots
skuil in die bodem, verdwyn in ‘n oomblik, die gesig van my oë blink met ‘n hart van trots
seil die woestyn in, onder elke heining, die eerste verleiding in my tong se vurk
elke dier kan ek insluk, die vuur van my gifpik, in die donkerste rigting gaan jy appels pluk
byt af en sluk, jou lugpyp stik, die indruk van my voorstelle is dodelik
die blote bewoording van my fluister betower elke oor wat dit hoor soos ‘n meesterstuk
nog geen skepsel ontmoet met ‘n bek of ‘n snoet wat genoeg moed bymekaar kan skraap
om die vuur in sy bloed te verander in ‘n vraag en sy woorde te spreek om my uit te daag


(2. die arend)

ek dans met die wind, ek’s die kranse se koning, ek maak dan my woning in die berg se sy
ek sweef deur die hoogtes, daar’s niks wat my oog mis, ek sien elke beweging in elke vallei
met my vlerke gesprei soos ‘n mantel wat wys dat die majesteit in my borskas rus
as enige dier ook kon opvaar tot hier sou hy dadelik kon sien waar die koningskap is
elke akkedis, elke dier en vis is verskriklik bewus my kloue is dodelik
en my snawel se krag waaroor geen dier kan lag, vir baie bloedige nagte verantwoordelik
my heerskappy strek in my vlerke se skadu en ek merk elke meter as my koninkryk
my hart is in oorvloed, my toekoms vol voorspoed, jy verstaan tog my hoogmoed as jy vir my kyk


(3. die konflik)

op ‘n onvermydelike dag vlieg die arend se gesag oor die presiese tak waar die slang lê en rus
en die arend se hart is geroer en verward oor die slang nie laat spat en oor hoe rustig hy is
“wie is jy?” roep die roofvoël, “jy lyk nogal hoopvol, dat as ek jou sou aanval, jy ‘n kans sou hê!”
“net ‘n kans?” lag die slang, “dink jy regtig ek is bang? ek’t al groter voëls gevang wat nou binne in my lê.”
“wel, ‘n arend is ek, dit verdien jou respek, al die krag in my nek het jou hele lyf nie!
ek dring aan op ‘n antwoord, jy praat met ‘n koning, ek herhaal nooit my woorde vir ‘n tydverdryf nie!”
die slang begin giggel soos die uitdaging hom prikkel en sy eie trots ontwikkel in die boomstam se mik
“ek is ‘n slang!” sê hy kil, “ek het die aarde in my wil, ek besit die hele spul, selfs vir jou ook.”
“wel, wel!” sê die arend, “jy’s ewe uitdagend! om jou te roof van jou asem gaan plesierig wees!”
hy sweef toe al hoe nader, en die diere vergader om hierdie kaskenade aan te kyk sonder vrees
die slang glimlag breed, met sy giftande gereed, net een byt en hy weet dat die arend sal sterf
die arend sien die grinnik en hy vlieg toe al hoe vinniger, hy haat daai gesig en hy gaan hom goed bederf
so storm hy wild in, die oomblik van konflik: die geveg begin in sy kloue se greep
die slang pik onmidellik en laat sy gif diep sink en vir ‘n oomblik dink hulle altwee hulle’t die ander een gebreek
want amper presies gelyk het die arend die slang gegryp en hom middeldeur gebyt met ‘n blitsige hap
maar altwee die “konings” kry hul trots se beloning in die volgende oomblik toe hulle spiere verslap
so dink jy maar self wat die sedeles is, in twee skedels wat blink soos die son hulle uitwis
hulle’t groot gepraat soos Ozymandias, en nou lê hulle langs hom in die sand en rus

No comments:

Post a Comment